Skip to content

God het jou nie vergeet nie

Psalm 22:25 “ Wanneer ’n mens swaarkry, ’n mens wat homself nie kan red nie, dan het die Here nie gemaak of dit nie belangrik is nie. Hy het nie sy gesig weggedraai van so ’n mens nie, Hy het gehoor toe ek geroep het en gevra het dat Hy my moet help” ABA

Die paar woorde van die volgende liedjie is vir my ’n groot inspirasie, Touch of Class sing – Val op Jou Knieë

“As jy val. Val op jou knieë.

As jy breek. Probeer weer.

Al is dit seer. Weet dat jy weet.

Hy was gebreek vir jou.

Hy sal jou staande hou.”

 “Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalm gegraveer” – Jesaja 49:15b -16

Daar bis tye in die lewe wanneer jy die gevoel kry dat die Here jou vergeet het. Miskien voel jy nou so.

Hierdie is ’n storie oor ’n pa en sy seun wat lank terug saam gaan jag het. Die reis was lank en rof en vol gevare. Net die wysheid en die ervaring van die pa het verseker dat hulle nie verdwaal nie.

Die seun het langs die pad nuuskierig geword. Hy wou weet wat aan die ander kant van die woud is.

Hy het vir sy pa gevra of hy vooruit kon hardloop en rondkyk. Sy pa het ingestem.

“Maar pa, hoe sal ek weet wanneer ek te vêr van pa afgedwaal het? Wat sal verseker dat ek nie verlore raak nie?”

Die pa het met wysheid geantwoord.

“Elke paar minute sal ek jou naam roep en wag dat jy antwoord. Luister mooi of jy my stem hoor, my seun. Wanneer jy my nie meer kan hoor nie, sal jy weet dat jy te vêr gegaan het.”

Het jy al ooit depressie beleef? Was jy al so bekommerd en verwar dat jy slapelose nagte ervaar het? Het jy al tye gehad waarin jy so moedeloos en ontevrede was dat niemand jou kon troos nie? Was jy al so moedeloos dat dit gevoel het of jy wou moed verloor en dat jou lewe ‘n algehele mislukking was?

Ek praat nie van ‘n fisieke toestand nie. Ek verwys nie na mense wat ‘n chemiese wanbalans of versteurd is nie. Ek praat van Christene wat van tyd tot tyd veg teen depressie, wat ons van nêrens af tref. Ons toestand kom dikwels nie van ‘n enkele bron af nie, maar van baie. Soms word ons van alle kante af getref totdat ons so oorweldig is, dat ons nie verder kan sien as ons moedeloosheid nie.

Onthou, God vergeet nie van ons nie, ons naam is op sy handpalm ingraveer.

Liewe heilige, God het jou nie in jou diep, donker storm vergeet nie. Ek laat jou met hierdie aanmoediging van die Psalmis: “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. U het ons in die net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed…Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed. Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!” (Psalm 66:10–12, 19–20).

Leave a Comment